Rede vir die Webwerf

Die vertaling van die Take His Heart Bedieninge se reeks boekies was geen maklike taak nie. Ek dank ons Hemelse Vader vir almal wat in staat was om te help met die vertaling van die boeke. Dit verg baie ure, maande en selfs jare om te voltooi. Maar waarom al hierdie moeite doen en wat het gelei tot hierdie webwerf?  Omdat ‘n visioen aan my op 17 April 2012 dit vereis het…

Visioen:  Ek is iewers heen onderweg, op ‘n trein. Ek het die indruk gekry dat ek na my dogter toe op pad is. Dit is ’n lokale trein met baie sitplekke soos in ’n bus. Ek sit op een van die banke en het ‘n spierwit ontwerpershandsak “clutch bag” in my hande. Ek maak die ritssluiter van die handsak oop en haal ‘n spierwit ontwerpers beursie uit. Albei (die handsak en die beursie) is duur artikels en ek voel baie ingenome daarmee. Ek was alleen in hierdie gedeelte van die trein, behalwe vir ‘n man wat die hele tyd net stil na my staan en kyk het asof hy op iets wag. Elke nou en dan haal ek baie tevrede die beursie uit die handsak en bêre dit dan weer. Ek haal dit uit en bêre dit. Op ‘n stadium maak ek die beursie oop en ek sien daarin is splinternuwe banknote. Ek begin om die note te tel, maar voordat ek klaar getel het, maak ek die beursie weer toe en bêre dit terug in die handsak…

Verklaring: My hande wat so doenig is met die beursie verteenwoordig die feit dat ek weet dat aksie nodig is om hierdie inligting na die mense toe deur te kry. Ek begin egter elke keer daarmee en dan stop ek weer. (Ek het op ‘n stadium nie geweet hoe om al die inligting wat ek ontvang het bymekaar te sit sodat dit sin maak nie, tot ek Vader daaroor genader het en Hy dit in ‘n enkele oomblik vir my uiteengesit het – hierdie webwerf is in opdrag van Hom gedoen.)

Ek maak die handsak en beursie oop, maar dan weer toe. Ek deel niks met die mense wie hierdie waarheid moet kry nie, ek hou dit vir myself. Ek tel die note, maar voordat ek klaar getel het, dan maak ek weer die beursie toe want ek het so baie ontvang en weet nie hoe om dit aan die mense oor te dra nie. Ek is ook baie ingenome oor hierdie openbarings wat na my kant toe gekom het, dit is vir my baie spesiaal.

Die man wat op die trein na my staan en kyk, is Yahushua  wat vir my wag om te begin doen wat Hy van my verlang. Ek en Hy is alleen, want die mense wat op die ander sitplekke moes gesit het is afwesig, weens my weerhouding van die inligting wat Hy vir my gegee het.

Op 23 April 2011 het ek ‘n visioen ontvang waarin ek gewys was om hierdie inligting op ‘n webwerf te plaas – voordat Geestelike waarheid op die internet verbied word.

Die volgende Woord is deur ‘n profeet op 15 Julie 2013 aangaande die waarhede wat ek vroeër ontvang het, aan my gegee :

Die waarhede wat ek aan jou openbaar het moet deel van jou word – nie slegs ‘n ondervinding nie, maar ‘n deel van jou natuur. Staan daar nie geskrywe dat Ek waarheid soek in die binneste nie? Dit is die waarheid van YHWH verklank in jou wese wat jou sal staande hou. Baie sal die waarheid hoor, maar die waarheid moet ‘n deel van jou word, jou hele lewe. Wanneer mans en vrouens na jou luister sal hulle nie alleenlik jou stem hoor nie, maar ook die verklanking van die waarheid. Baie sal oorwin word deur die Bose omdat hulle nie volhard in My weë nie en omdat hulle nie die waarhede toegelaat het om deel van hulle te word nie.  Ek wys aan jou hierdie dinge dat jy voorbereid kan wees om dan, wanneer jy alles gedoen het, te kan bly staan!

Vader het ook as deel van die boodskap twee Skrifgedeeltes gegee en baie pertinent my aandag daarop gevestig.

Psalm 51:8  Kyk, U het ‘n welgevalle aan waarheid in die binneste en in die verborgene maak U aan my wysheid bekend.

Efes 6:13  Daarom neem die volle wapenrusting van Elohim op sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en nadat julle alles volbring het, staande kan bly.

Op 28 Julie 2012 het ek die boodskap ontvang om die reeks boeke te begin skryf oor YHWH se reeks oor die Weg van die Kruis sodat die Volk en almal wat ‘n oor het om te hoor, die Waarheid oor die Woord kan leer ken, die waarheid wat MET TYD VERLORE GERAAK HET, sodat hul hulself gereed kan kry vir die bruilofsfees. Daar is te veel mensgeskepte “leringe” wat die volk op ‘n dwaalspoor lei, weg van die waarheid af.  Daardie boeke is steeds nie voltooi nie as gevolg van die vertalings van die Take His Heart boeke.  Ek sal daarmee voortgaan sodra alles van Take His Heart voltooi is.  Hierdie boeke is gebore uit visioene, openbarings en boodskappe vanaf ons Hemelse Vader.  Menslike opinies of dogma was nie toegelaat nie.

Ons volk is ‘n hardnekkige en eiesinnige volk, maar Vader het ook hierdie volk baie lief. Sy wonderwerkende genade in ons geskiedenis bewys dit. Hy het GROOT planne en SY EIE doelwit met ons volk. Vader het my ‘n klein kykie gegee in sy doelwit met hierdie volk en waarom dit so belangrik is dat ons geestelik voorbereid moet raak vir Sy planne.

Die Finale Bevestiging:

Ons mede broers en susters in Yahushua by Take His Heart Bedieninge het ‘n Oordeelsvergadering gehou oor hierdie webwerf en of dit Yahushua se goedkeuring wegdra.  Ons en Take His Heart doen niks meer sonder om ons Koning in oordeelsvergaderings te nader wanneer dit by Sy sake kom nie. Hy moet die oordeel gee, nie ons nie.

Hier volg die inligting presies soos hulle dit ontvang het.  Die afkortings aan die kant is die afkortings vir die name van die persone wat die boodskappe in die vergadering ontvang het.  Ons het dit in Afrikaans vertaal presies soos hulle dit van Yahushua ontvang het.

Maandag 28 Maart 2016 om 6:47 nm

Vraag 2:  Reinette en familie wil U boeke op ’n webwerf plaas. Wat sê U, Yahushua?  

MM  – Heilig, Heilig, Heilig, Heilig, Heilige Pogings / stoot hulle voort / laat My toe om te seën /laat My toe

LC  – die Geluksaliges /roep hulle uit

BN  – Paradys is in My

DS  – Sien ’n groep mense in ’n kelder met mure van sement (Beskermde mense).

DP  – Kom My genade binne

LW – Soewereine gebied. Magtig om te red. Insamelings verteenwoordigers.

VC  – Dit is Myne

Ek het gereken dit sal vir julle tot seën wees om die antwoorde te sien. Ons is grootliks geseën dat dit gebeur. – Roy