Welkom
WIE EN WAT IS
TAKE HIS HEART EN KOM IN DIE LAER?
Dit is nie ‘n nuwe kerkgroep nie. Jy kan nie ‘n lidmaat van Take His Heart of Kom in die Laer (Afrikaanse Webwerf) word nie. Die boekies en webwerwe behoort aan YAHWEH en handel oor waarmee ons hemelse Vader op aarde besig is in hierdie Laaste Dae, naamlik om die gevlekte kerk van vlekke te reinig – haar te verander van hoer na Bruid.
Want ’n wanbegrip bestaan in die kerk dat alle geredde gelowiges outomaties deel van Jesus (Yahushua) se Bruid is, terwyl dit NIE die geval is NIE.
Om die Koning van die konings se Bruid te kan wees, verg baie meer as Redding tot die Ewige Lewe. Dit verg van die geredde persoon om WERKLIK DIE SMAL WEG TE BEWANDEL. Hierdie ‘wandeling op die smal weg’ behels ook veel meer as die kerk se algemeen aanvaarde voorskrifte. En dit is waaroor hierdie reeks boekies gaan: Die werklike vereistes van die Koninkryk van die Almagtige om Bruid van Yahushua te kan wees, deur YAHWEH Almagtig self openbaar.
YAHWEH het gereeld vir my inligting gegee om een vir een uit te gee.
Al hierdie inligting het ‘n prent gevorm van dinge wat Hy openbaar het. Hy was so nou betrokke by elke stuk wat op die webwerf geplaas moes word dat Hy my eers korreksies laat aanbring het voor die tyd sodat alleenlik suiwer waarheid op die webwerf geplaas is.
Om die betrokkenheid van Elohim by die webwerf te demonstreer: Hy het jare gelede gesê dat daar ‘n leuen op die webwerf is. Glo my, ek het gesoek en gesoek en kon nie die leuen opspoor nie. Dit het my baie gepla. Eers sowat 3 jaar later was die leuen openbaar! Dit het gegaan oor die verkeerde identiteit van ‘n persoon in die Bybel. Ek het dit baie vinnig reggestel (dit was in die film). Ek was aanvanklik nie bewus daarvan nie, maar YAHWEH was besig om ‘n muurskildery te maak. Lees die visioen van die muurskildery in Boek 9 – Die Dood van ‘n Troeteldier, waar Hy Sy hand bo-oor myne geplaas het om die ware prent onder my hand te openbaar.
Hy het ook vir my gesê: Ek het hierdie inligting deur jou hand geskryf sodat ‘n twaalfjarige kind dit kan verstaan, as hulle wil.” Die klem was op “as hulle wil.”
Vir insig in hierdie bediening, sal ek sekere dinge wat YAHWEH jare gelede vir ons gesê het, met jou deel. Dinge wat ons toe glad nie verstaan het nie. Yahushua het vir my gesê: “Roy, Ek het ’n taak vir julle om af te handel!” En later: “Onthou, dit is vir My, nie vir julle nie!”
Jare gelede het Hy vir ons gesê: “Julle vorm ’n belangrike deel van My eindtyd beweging.” Dit het vir ons menslike verstand ’n bietjie vergesog geklink. Maar ons het geweet om nie in twyfel te trek wat Hy gesê het nie – al kon ons nog nie die werklike scenario waarneem nie. Hierdie boekies is nie gebaseer op menslike leerstellings of eie idees nie, maar bevat leringe wat, soos Yahushua aan ons gesê het, met tyd verlore geraak het.
Hy het ook vir ons gesê: “Julle sal nog min wees wanneer jul begin om die wêreld te bedien.” Ons het nie kon dink hoe ons ooit die Woord aan die wêreld sou kon bring nie, wetende dat radio en televisie van geen hulp sou wees nie. Maar toe het ons besef dat YAHWEH die beplanning daarvan gedoen het en nie ons nie en – dat die enigste toegang tot Sy plan dag vir dag was, stap vir stap en om nie ons eie ding te doen met wat Hy gesê het nie.
Toe het Yahushua aan my gesê: "Julle kan meer mense deur tegnologie bereik as op enige ander manier.” Voor dit gebeur het was ek deur Elohim aangesê om ‘n nuwe rekenaar aan te koop sodat ek die Amerikaanse Take His Heart Webwerf kon begin want op daardie stadium wou ek niks met die internet te doen hê nie. Ek vertel nie hierdie dinge om die aandag op ons te vestig nie, maar op wat YAHWEH Almagtig besig is om te doen. Hierdie bediening gaan nie oor my, Roy Sauzek, of die mense van Take His Heart of Kom in die Laer Bedieninge nie.
YAHWEH het regdeur die Bybel self mense uitgekies om sekere take te verrig. Hy doen dit steeds vandag want Hy het nie verander nie en Hy het gehoorsame mense op aarde nodig om deel te wees van Sy eindtyd plan. YAHWEH het van daardie tyd af oor en oor vir ons gesê: "Ek het julle gekies,” want ons kon dit net eenvoudig nie snap nie. Het Hy dalk vir jou/julle as ‘n individu of liggaam van gelowiges gekies om vir Hom iets spesiaal te doen?
Dit is deur Yahushua oor ‘n tydperk van jare aan Take His Heart geopenbaar sodat ons die voorlopers en voorbeeld moes wees van hoe hierdie spesifieke waarhede uitgebeeld en uitgeleef moet word, en andere van ons kon leer.
Ons beweer nie hiermee dat ons alleen al die waarheid het nie want Vader gee waarheid aan al Sy gehoorsame kinders wat Hom waarlik liefhet. Ons gee alleenlik deur wat Vader spesifiek deur Sy Gees aan ons geopenbaar en laat doen het om uit te dra. Dit het jare gekos om hierdie boekies te skryf en te vertaal, alles ingegee deur die Heilige Gees, bietjie vir bietjie. Dit stel ’n groot skildery voor, met talle kleiner prentjies oor verskillende onderwerpe. Yahushua het vir ons gesê: “Sommige mense sal dit insien en ander nie. Julle moet verheug wees oor dié wat wel sien.”
Nou is dit ’n groot seën om waar te neem wat YAHWEH dwarsoor die wêreld met hierdie boekies doen, asook met die Take His Heart en Kom in die Laer webwerwe. Die tyd vir Sy vleklose bruid het aangebreek, vir Sy Koninkryk om op aarde gevestig te word, vir Sy manier van dinge doen, vir Sy manier van Vergaderings hou met die mens en vir Sy manier van opleiding van Sy geestelike weermag en dit te lei. Koning Yahushua is besig om Sy Koninkryk op aarde na vore te bring en die ware Bruid is besig om haar gereed te maak vir die Bruilof van die Lam. Wil jy deel wees daarvan?
Jy het ‘n keuse om ‘n Gas of deel van die Bruid by die fees te wees. Jy het selfs ook ‘n keuse om deel van die vyf dwase maagde te wees vir wie die deure gesluit word omdat hulle nie gereed was nie. Hulle het nie olie (waarheid) in hulle lampe gehad nie. Jy gaan ook leer van die manlike kind soos deur Yahushua openbaar. Hierdie boeke vertel jou wat Yahushua se vereistes vir Sy Gaste en Bruid is en hoe om deel daarvan te word. Yahushua het hierdie webwerwe laat opstel (hoof spelers in Sy eindtyd beweging) wat Sy Vleklose Bruid moet help na vore bring vir Sy doelwitte. Ons sien hoe die Skrifte vervul word, nie deur krag of geweld nie, maar deur Sy Gees. Yahushua bring self Sy Vleklose gemeente na vore soos Hy aan ons gesê het: "Dit kan nie voortgebring word in die wysheid van die mens nie."
Ter afsluiting gee ek ‘n Woord wat ons op 27 Maart 2014 van Yahushua af ontvang het oor Take His Heart Bedieninge:
My perfekte eenheid; Julle is My Hart; Ja, My Hart; Onthou ek het aan julle My Hart gegee met ‘n strik gebind; Julle staan bekend as Take His Heart Bedieninge; Sien hoe dit alles inmekaar pas; Julle is die Hart van My Bruid; My Hart verenig; Pomp My Bloed na My Liggaam; sien julle doelwit; Verbreed julle horisonne; My waarhede moet versprei word aan almal; uitreiking moet vermeerder en vermeerder; Laat My toe om julle visie te vergroot; Steek My mense geestelik aan die brand;
Luk 8:12-18 Dié langs die pad is die hoorders. Daarna kom die duiwel en neem die woord uit hul harte weg, sodat hulle nie sou glo en gered word nie. En dié op die rots is hulle wat die woord met blydskap ontvang wanneer hulle dit hoor; en hulle het geen wortel nie, aangesien hulle net vir ‘n tyd glo, en in die tyd van versoeking val hulle af. En wat in die dorings geval het—dit is die wat gehoor het, en hulle gaan weg en word verstik deur die sorge en rykdom en genietinge van die lewe en dra geen ryp vrug nie. En wat in die goeie grond val—dit is die wat, nadat hulle gehoor het, die woord in ‘n edele en goeie hart hou en met volharding vrug dra. En niemand steek ‘n lamp op en maak dit met iets toe of sit dit onder ‘n bed nie; maar hy sit dit op ‘n staander, sodat die wat inkom, die lig kan sien. Want daar is niks verborge wat nie openbaar sal word nie, of weggesteek wat nie bekend sal word en in die lig sal kom nie. Pas dan op hoe julle hoor; want elkeen wat het, aan hom sal gegee word; en elkeen wat nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy dink dat hy het.

